Korporatiewe beheer – Naamsveranderinge

Dit staan ʼn maatskappy of beslote korporasie vry om sy naam te verander indien verkies.  Vir maatskappye sal die naamsverandering ʼn spesiale besluit tot gevolg hê wat deur die aandeelhouers van die maatskappy goedgekeur moet word en in die geval van ʼn beslote korporasie moet die lede van die beslote korporasie die naamsverandering goedgekeur.

 

Voor die naam van die maatskappy of beslote korporasie verander kan word, moet voorgestelde name aan die “Companies and Intellectual Property Commission” (“CIPC”) voorgelê word vir goedkeuring. Daar kan vier opsies van moontlike name verskaf word aan CIPC in volgorde van keuse. Wanneer CIPC tevrede is met ʼn voorgestelde naam, sal hulle dit vir die gebruik van die maatskappy of beslote korporasie reserveer vir ʼn tydperk van 6 maande.  Die reservering kan ná 6 maande vir ʼn verdere tydperk van 1 maand verleng word, maar kan daarna nie verder verleng word nie en sal verval, waarna  ʼn aansoek weer ingedien sal moet word.

 

Die voorgestelde name van maatskappye en beslote korporasies moet aan verskeie vereistes voldoen soos uiteengesit in Artikel 11 van die Maatskappywet van 2008 (“die Wet”).  Hieronder volg ʼn lys van enkele van hierdie vereistes –

 

  • die naam mag woorde in enige taal insluit;

 

  • die naam mag nie dieselfde of verwarrend soortgelyk wees aan –
    • die naam van ʼn ander maatskappy, geregistreerde buitelandse maatskappy, beslote korporasie of koöperasie nie, tensy die maatskappy/beslote korporasie deel uitmaak van ʼn groep wat soortgelyke name gebruik;
    • ʼn naam geregistreer vir die gebruik van ʼn persoon as ʼn besigheidsnaam ingevolge die Wet op Besigheidsname, Wet no. 27 van 1960, nie;
    • ʼn geregistreerde handelsmerk wat aan ʼn ander persoon behoort, of ʼn handelsmerk ten opsigte van ʼn aansoek vir registrasie as ʼn handelsmerk in die Republiek ingedien is nie, of ʼn welbekende handelsmerk soos in Artikel 35 van die Wet op Handelsmerke, Wet no. 194 van 1993, beoog nie;
    • ʼn handelsmerk, woord of uitdrukking waarvan die gebruik ingevolge die Wet op Handelswaremerke, Wet no. 17 van 1941, beperk of beskerm word nie;

 

  • die naam mag nie valslik impliseer of voorgee, of sodanig wees dat dit ʼn persoon redelikerwys sal mislei om verkeerdelik te glo dat die maatskappy/beslote korporasie –
    • deel is van of geassosieer word met ʼn ander persoon of entiteit nie;
    • ʼn staatsorgaan of ʼn hof is, of deur die staat, ʼn staatsorgaan of ʼn hof bedryf, geborg, gesteun of onderskryf word nie;
    • besit, bestuur of bedryf word deur ʼn persoon of persone wat ʼn bepaalde opvoedkundige benaming het nie;
    • besit, bedryf, geborg, gesteun of onderskryf word deur, of die ondersteuning geniet van enige internasionale organisasie, buitelandse staat, staatshoof, regeringshoof, regering of administrasie van ʼn departement van so ʼn regering of administrasie nie;

 

  • die naam mag nie ʼn woord, uitdrukking of simbool insluit wat, in isolasie of in samehang met die res van die naam redelikerwys geag kan word as oorlogspropaganda, aanhitsing tot onmiddellike geweld of voorspraak vir haat gebaseer op ras, etnisiteit, geslag of geloof, of aanhitsing om skade te veroorsaak uit te maak nie.

 

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)