Korporatiewe beheer – Finansiële jaareinde

Die finansiële jaar van ’n maatskappy staan bekend as die rekenkundige periode. Ingevolge artikel 27 van die Maatskappywet No. 71 van 2008 (“die Wet”), het elke maatskappy wat geregistreer is ingevolge die Wet ’n finansiële jaareinde. Hierdie datum word vervat op die Kennisgewing van Inkorporasie-dokument van ’n betrokke maatskappy.

 

Die eerste finansiële jaareinde van ’n maatskappy begin op die datum waarop die maatskappy geregistreer is. Hierdie laasgenoemde datum verskyn op die registrasie dokumentasie van die maatskappy. Die finansiële jaareinde van die maatskappy sal dan eindig op die datum soos wat dit verskyn op die Kennisgewing van Inkorporasie-dokument van die maatskappy.

 

Die opeenvolgende finansiële jaar van ’n maatskappy begin op die datum direk na die voorafgaande finansiële jaar geëindig het, en sal dan weer eindig op die datum soos vervat in die Kennisgewing van inkorporasie-dokument van die maatskappy, behalwe as die maatskappy se finansiële jaareinde verander word deur ’n besluit van die direksie gedurende die betrokke finansiële jaar.

 

Die direksie van ’n maatskappy mag die finansiële jaar van ’n maatskappy enige tyd wysig deur ’n aansoek van wysiging in te dien by die Companies and Intellectual Property Commission (“CIPC”) deur die indiening van ’n CoR 25-vorm wat geteken is deur een van die direkteure van die maatskappy asook ’n ondersteunde resolusie wat geteken is deur al die direkteure van die betrokke maatskappy.

 

Die vereistes vir die wysiging van ’n finansiële jaareinde soos uiteengesit is in die Wet is as volg:

 

  1. ’n finansiële jaareinde mag slegs een keer in ’n betrokke finansiële jaar gewysig word;
  2. die nuut-verkose finansiële jaareinde moet ’n datum wees wat later is as die datum waarop die wysiging ingedien word by die CIPC; en
  3. die nuwe finansiële jaareinde mag nie daartoe aanleiding gee dat die nuwe finansiële jaar langer as 15 maande sal wees ná die voorafgaande finansiële jaar geëindig het nie.

 

As die finansiële jaar van ’n maatskappy eindig op ’n Saterdag of ’n Sondag van ’n betrokke jaar, dan sal daar geag word dat die finansiële jaar eindig op die volgende amptelike besigheidsdag.

 

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Wenke om geregistreerde besonderhede op datum te hou

Voordat u jaarlikse opgawe voltooi word, is dit belangrik om seker te maak dat kontak-, adres-, bank- en openbare offisiersbesonderhede van die entiteit (hetsy vir ’n individu, maatskappy, trust of enige ander entiteit) korrek is, deur dit te bevestig en op te dateer met gebruik van die RAV01-vorm. Die RAV01-besonderhede kan op twee maniere bevestig en opdateer word, naamlik via eFiling of deur ’n SAID-tak te besoek.

 

Veranderinge wat via eFiling kan geskied:

  • sekere identiteitsinligting (bv. naam en van);
  • bankbesonderhede;
  • adresbesonderhede;
  • kontakbesonderhede; en
  • handelsnaam van ’n entiteit.

 

Indien die validering van u bankbesonderhede onsuksesvol is op eFiling, sal u versoek word om ’n SAID-tak te besoek om u bankbesonderhede persoonlik te bevestig. Sekere besonderhede soos registrasienommers en ID-nommers sal gesluit wees en die opdatering van hierdie velde kan slegs by ’n SAID-tak gedoen word.

 

Veranderinge wat slegs by ’n SAID-tak aangebring kan word:

 

  • Die aard van die entiteit (bv. maatskappy, trust en BK)
  • Identiteitsnommer / paspoortnommer / ondernemingsregistrasienommer (bv. ID-nommer, CIPC nommer of trust nommer ens.)
  • Bankbesonderhede – slegs onder die volgende voorwaardes:
    • wanneer ’n derdeparty se bankbesonderhede betrokke is;
    • wanneer die entiteit ’n trust is;
    • wanneer die entiteit gekodeer as bestorwe boedel; en
    • wanneer bankbesonderhede via eFiling verander word en addisionele validering benodig word.

 

Opdatering van bankbesonderhede:

 

Slegs die spesifieke belastingbetalers (individue), publieke amptenare (maatskappye en trusts) en geregistreerde belastingpraktisyns is by magte om bankbesonderhede te wysig. Dokumente wat nodig is om geregistreerde besonderhede op te dateer sluit in:

 

  • getekende volmag (waar u van ’n belastingpraktisyn gebruik maak);
  • resolusie vir die aanstelling van die publieke amptenaar (in gevalle anders as ’n individu);
  • gesertifiseerde afskrifte van identiteitsdokumente van belastingbetaler en alle direkteure (in gevalle anders as ’n individu);
  • nuutste registrasie dokumente en akte van oprigting van die entiteit (in gevalle anders as ’n individu);
  • bewys van die fisiese adres van publieke amptenaar asook die entiteit (in gevalle anders as ’n individu); en
  • oorspronklike bankstaat, in die naam van die belastingbetaler, nie ouer as drie maande vanaf die datum van die afspraak nie.

 

Om enige onnodige besoeke aan ’n SAID-tak te verhoed, beveel ons u aan om ons as u geregistreerde belastingpraktisyn so spoedig moontlik van enige veranderinge aan u geregistreerde besonderhede in kennis te stel, om ons sodoende die kans te gee om u besonderhede te wysig voordat u volgende opgawe ingedien word.

 

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)