Korporatiewe beheer – Finansiële jaareinde

Die finansiële jaar van ’n maatskappy staan bekend as die rekenkundige periode. Ingevolge artikel 27 van die Maatskappywet No. 71 van 2008 (“die Wet”), het elke maatskappy wat geregistreer is ingevolge die Wet ’n finansiële jaareinde. Hierdie datum word vervat op die Kennisgewing van Inkorporasie-dokument van ’n betrokke maatskappy.

 

Die eerste finansiële jaareinde van ’n maatskappy begin op die datum waarop die maatskappy geregistreer is. Hierdie laasgenoemde datum verskyn op die registrasie dokumentasie van die maatskappy. Die finansiële jaareinde van die maatskappy sal dan eindig op die datum soos wat dit verskyn op die Kennisgewing van Inkorporasie-dokument van die maatskappy.

 

Die opeenvolgende finansiële jaar van ’n maatskappy begin op die datum direk na die voorafgaande finansiële jaar geëindig het, en sal dan weer eindig op die datum soos vervat in die Kennisgewing van inkorporasie-dokument van die maatskappy, behalwe as die maatskappy se finansiële jaareinde verander word deur ’n besluit van die direksie gedurende die betrokke finansiële jaar.

 

Die direksie van ’n maatskappy mag die finansiële jaar van ’n maatskappy enige tyd wysig deur ’n aansoek van wysiging in te dien by die Companies and Intellectual Property Commission (“CIPC”) deur die indiening van ’n CoR 25-vorm wat geteken is deur een van die direkteure van die maatskappy asook ’n ondersteunde resolusie wat geteken is deur al die direkteure van die betrokke maatskappy.

 

Die vereistes vir die wysiging van ’n finansiële jaareinde soos uiteengesit is in die Wet is as volg:

 

  1. ’n finansiële jaareinde mag slegs een keer in ’n betrokke finansiële jaar gewysig word;
  2. die nuut-verkose finansiële jaareinde moet ’n datum wees wat later is as die datum waarop die wysiging ingedien word by die CIPC; en
  3. die nuwe finansiële jaareinde mag nie daartoe aanleiding gee dat die nuwe finansiële jaar langer as 15 maande sal wees ná die voorafgaande finansiële jaar geëindig het nie.

 

As die finansiële jaar van ’n maatskappy eindig op ’n Saterdag of ’n Sondag van ’n betrokke jaar, dan sal daar geag word dat die finansiële jaar eindig op die volgende amptelike besigheidsdag.

 

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)